HP#1: NOG ‘N PERSPEKTIEF OP DIE “BLACK LIVES  - ALL LIVES - WHITE LIVES MATTER” DEBAT

Een van die baie dinge wat die covid-pandemie gebring het, is dat dit ‘n vergrootglas kom plaas het op al die krake in die samelewing. Die rassespanning in Suid-Afrika kom oor jare saam. Mens moes eintlik verwag het dat die ongeëwenaarde situasie van die afgelope paar maande ook die diep verskille tussen mense sou ontbloot. Die vonkie in die kruitvat was die dood van George Floyd en die “Black lives matter” slagspreuk wat uitgekreet is. 

Black lives matter

Die formele “Black lives matter”- organisasie het sy ontstaan in 2013 gehad, met die organiseerders daarvan wat Marxisme aanhang en oor die jare baie militante uitsprake gemaak het.

Met die dood van Floyd is hierdie slagspreuk van nuuts af uitgekreet “Black lives matter!” ‘n Uitroep teen sosiale onreg en mense wat wêreldwyd die voortgesette diskriminasie teen swart mense wou veroordeel. ‘n Uitroep wat deur regerings, sportmense, maatskappye  en gewone mense geuiter word om te sê dat die posisie van swart mense in die samelewing moet verander.

Uiteraard sou Suid-Afrikaanse sportsterre ‘n mening hieroor begin lug. Met Lungi Ngidi se ondersteuning van die “Black lives matter”- sentiment en Boeta Dippenaar se uitlig van die ander kant van die munt, dat “All lives matter” -was die kat behoorlik in die duiwehok los. Hoe sou ander sportsterre kon swyg, hoe sou die eerste swart Springbokkaptein kon swyg? Hy het bevestig dat die rassespanning steeds in Suid-Afrika bestaan, dat daar na al die jare steeds ongelykhede in sport is.

Teen die tyd wat Siya sy opinie gelig het, was dit reeds ‘n woordoorlog op sosiale media in die slegste van smaak. Jy moes nou kant kies tussen “Black lives matter” of “All lives matter”. Nog meer, in solidariteit met swart mense se ervaring van onreg, het talle in die openbaar op die knie gegaan met ‘n vuis in die lug, met ander wat ‘n afkeur daaraan het. As jy kies vir “Black lives matter”, word jy gebrandmerk as ‘n verraaier, ‘n swakkeling – met baie wat hulle Springboktruie in repe geskeur het. As jy kies vir “All lives matter”, word jy beskou as ‘n rassis, bevooroordeeld omdat jy altyd aan die bevoorregte kant gestaan het.

Die eeue-oue krake in ‘n samelewing, plofbaar opgeblaas, tot kraters tussen mense. Ons hoor mekaar nie. Ons hoor nie mekaar se pyn nie.

“Maar wat van die plaasmoorde?”

Famers’ lives matter

Dit is die uitroep wat in Suid-Afrika opgegaan het in reaksie op die “Black lives matter” – kreet. “Wat van die plaasaanvalle? Die wreedheid daarvan! Maak boere se lewe dan nie saak nie?” Dit het sosiale media oorheers. In elke gesprek, of dit pas of nie, is hierdie vraag bygebring.

Die dood van Floyd, wat in Amerika plaasgevind het, het gebeur tydens ‘n vlaag van plaasaanvalle en erge geweld op plaasboere, wat kort nadat die inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika verslap is, plaasgevind het. Terwyl daar op regeringsvlak openlike steun vir die “Black lives matter” – veldtog was, en in die openbaar simpatie met Floyd se familie betuig is, is die plaasaanvalle met ‘n stille swye begroet. President Ramaphosa het hom oor geweld teen vroue uitgespreek, maar niks oor die geweld teen boere en hulle plaaswerkers nie.

Dit het die woede wat deur Covid-19 en die hantering daarvan veroorsaak is, laat oorkook. Floyd se dood en die reaksie daarop het vir baie wit Suid-Afrikaners, baie verder gevoel as die dood van “ons eie mense” hier plaaslik. “Net swart mense se lewe maak saak en hulle gee nie om dat ons uitgemoor word nie.”  Swart Suid-Afrikaners het dit egter gehoor as “hulle verstaan nie en ontken steeds die onreg wat ons aangedoen is.”

“Ons” en “hulle” – ‘n baie diep kloof in Suid-Afrika tussen wit en swart. Na al die jare hoor ons mekaar steeds nie. Die onreg wat swartmense steeds ervaar en wat wél gebeur, die bekommernis oor ons boere wat onveilig voel en wat so ís, behoort gehoor te word, aangespreek te word,  en oplossings moet gekry word. Dit sal egter nie help om die twee krete teenoor mekaar te stel nie. Op die oomblik gaan dit oor wie die hardste skree om gehoor te word.

Maar “alle lewe maak saak!”

All lives matter

Wêreldwyd was dit die teenreaksie op die “Black lives matter” – uitroep. “All lives matter.” “My kind se lewe is kosbaar, ongeag watter kleur hy of sy is.” Dit klink na die regte uitspraak om te maak. Ons is elkeen tog gelyk voor God?

Tog, hoe die debat verloop het steeds gewys dat ons mekaar nie hoor nie. Baie het gehoor dat as jy sê “black lives matter” dan sê jy eintlik “net swart mense se lewens maak saak, ander mense se lewens maak nie saak nie.” Baie ander het gehoor dat as jy sê “all lives matter”, dan gee jy nie erkenning aan die pyn van swart mense nie, dan is jy nie werklik verbind om ‘n verskil te maak nie, dan gaan die ongelykheid nog steeds net bly voortgaan. En dit is sekerlik so … vir sommige mense het ander se lewens geen waarde nie … en ander kan nie minder omgee oor die gelykheid in ‘n samelewing nie. Maar tog … ons het al ‘n ver pad in Suid-Afrika gekom. Ons is saam in hierdie land. Ons kinders gaan saam in hierdie land wees. Ons is verbind om dinge te maak werk in hierdie land.

Ek wil nie ‘n streep deur die diskoers wat op die oomblik plaasvind, trek nie. Ek dink ons moet praat oor “lewe maak saak”. Dalk moet ons net ophou om mense te dwing om kant te kies, om mense te veroordeel as hulle ‘n ander oortuiging het as wat ek het. Dalk is dit belangriker “hoe” ons met mekaar en “oor” mekaar praat. Dalk is dit meer nodig om te hoor, as om self te praat.

“If my suffering and my pain doesn’t affect you, then we are actually not stronger together.”

SIYA KOLISI

“Ek is waardig. Jy is waardig.”

#LIVES Matter. I am worthy. You are worthy.

Jesus het ‘n baie duur prys vir lewe betaal. Waardigheid is een van die dinge wat Jesus aan die kruis herstel het. Toe Jesus my sonde aan die kruis geword het, is ek herskep na God se beeld. Dit is hoe God my sien: “Ek is waardig voor God.” Die realiteit daarvan het begin deurbreek toe ek van hierdie waarheid – hoe God oor my dink – oortuig geraak het. Ek kan nou leef as God se beeld en verteenwoordiger op aarde. Hoe meer ek hierdie waarheid omhels, hoe meer sien ek elke ander mens soos God hom, soos God haar, sien … as waardig gemaak deur Jesus. Soos wat Jesus my naaktheid en gebrokenheid met sy kleed van waardigheid geklee het, so wil ek ander se seer en gebrokenheid en tekortkominge in genade met waardigheid beklee, so wil ek ander se uniekheid en gawes en talente vier.

Ons kom ‘n ver pad in Suid-Afrika, maar daar is nog ‘n lang pad voor. Die krake in ons samelewing kan nie ontken word nie. Die spanning tussen mense is ‘n realiteit. Tog glo ek in ons land en in sy mense. Dit is mý land en mý mense. Dit is waar God my geplant het!

Lewe maak saak!

Die genade wat ek ontvang het, laat my met genade leef.

“Ek is waardig. Jy is waardig.”

Die waarde waarmee God my koester, laat my jou met respek en waardigheid behandel.

Minder praat, meer hoor, meer daadwerklik doen … eintlik net wéés wie ek voor God is … en jou behandel vir wie jy voor God is.

HENNIE PIENAAR

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaleo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Blog te ontvang, kan jy HIERDIE skakel volg.

As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg..