HP#2: MENSIG, MAAR DIE MENSDOM IS KWAAD!

Vir jare lank doen ek nie die sosiale media ding nie. Ek het ‘n Facebook profiel wat meeste van die tyd onaktief is. So nou en dan aktiveer ek dit, maar glip vinnig weer af. Ek kan net nie alles en almal volg nie. Die afgelope paar maande het ek egter doelbewus meer dikwels ingeskakel op sosiale media. Ek het dan nou self een van hierdie sosiale media predikers geword met my videoboodskappe aanlyn. 😜 Op ‘n manier moet jy by jou gemeente uitkom!

So nou en dan volg ek die nuusstroom van my Facebook vriende. En sjoe, is dit nie morbied nie! Vandat mense nie meer as vriende saam kan vleisbraai nie, slaan hulle kampvuur op, op sosiale media. En hulle praat oor alles en nog wat, spoel hulle mond uit. Dit het die uitlaatklep geword … ‘n stortvloed van negatiwiteit.

Mensig, maar die mensdom is kwaad! 😡

Word die mensdom kwater?

Ek weet nie, hoe oordeel jy daaroor? Dit lyk vir my of daar altyd skuiwe in die kultuur is. Die kultuur waarin ons leef, is altyd aan die verander. En dit voel vir my of een van hierdie kultuurskuiwe wat plaasvind,  die wolk van konflik is (amper haat) wat tussen mense al  dikker word. Die vuur van konflik brand al hoër. Die suspisie wat daar heers, die ongeduld, die aggressie, die woedeuitbarstings word al erger. Dit lyk amper vir my of ‘n mens nie ‘n mening kan hê sonder om aggressief tot uitbarsting te kom nie.

Dit het ons kultuur geword.

Speel die Covid-19 pandemie ‘n rol in mense se aggressie vlakke?

Ek dink so, wat dink jy? Die ongeëwenaarde gebeure rondom die virus en die noodmaatreëls daarmee saam, het nie die vuur van aggressie aan die brand gesteek nie, maar dit het definitief die vlamme hoër laat brand. Aanvanklik was daar ‘n eenheidsgevoel, “ons moet saam staan teen hierdie pandemie”. Maar mettertyd het dit opgevlam in woede en verdeeldheid. “Die pandemie verg sterker inperkingregulasies.” “Die ekonomie verg onmiddellike verslapping van inperkingregulasies.” “Die pandemie stuur af op ‘n nasionale ramp.” “Watter pandemie? Die pandemie is ‘n klug, opgeblaas tot iets baie groters as wat dit is.” “Die pandemie is ‘n georkestreerde verandering van die samelewing soos wat ons dit ken.” “Daar is ‘n ander agenda.” “Drank  en sigarette moet verban word.” “Die verbanning van drank en sigarette is ongrondwetlik.” “Die skole moet toe, dit is onveilig vir kinders en onderwysers.” “Die skole moet oop!!!!!!” “Black lives matter.” “Maar wat van die plaasmoorde?”

Die vuur van aggressie brand lankal, maar die pandemie, die hantering daarvan, die reaksie daarop … blaas die vlamme aan.

Laat ons daaroor nugtere perspektief behou. Ongetwyfeld het die regering verkeerde besluite geneem en verkeerde opsies uitgeoefen, maar verseker was daar ook baie goeie besluite en die wil om die situasie aan te spreek. En definitief was dit ook ‘n tyd van politieke opportunisme. Die virus is gebruik en misbruik soos wat dit elkeen pas. En dit is ‘n wêreldwye verskynsel.

Een van die natuurlike reaksies op trauma en die verwerking van verlies, is om kwaad te wees. Jy is kwaad vir iets, vir iemand. Dit is normaal om so te voel. Wat abnormaal is, is dat almal op een slag trauma en verlies ervaar en daardeur moet werk … die ganse wêreld oor. Daarom is dit so verskriklik belangrik dat ons moet verstaan hoekom die wêreld so morbied, bitter en kwaad is. Hoekom ek en jy so kwaad is. As ons dit nie doen nie, het die vuur die potensiaal om ons te verteer en te verwoes. ‘n Storm wat oplaai, moet op ‘n stadium uitwoed!

Watter rol speel sosiale media in dit alles?

‘n Groot rol, dink ek … hoe voel jy daaroor? Die vuur van aggressie brand hoog, Covid-19 blaas dit aan, maar sosiale media is die petrol op die vuur. Dit is asof die negatiwiteit, woede en aggressie plek-plek wil handuit ruk.

Die vraag is waarom?

  • In sosiale media is jy min of meer anoniem. Jy sê makliker dinge van agter ‘n skermpie as wat jy dit in persoon sou sê. Jy doen dinge op sosiale media wat jy nooit in die “normale” lewe sou doen nie. Mense is meer geneig om aggressief, ongeskik, verdelend en aanvallend op sosiale media te wees, as in persoon. Die mate van anonimiteit wat jy geniet, dra grootliks daartoe by.
  • Afstand desensitiseer. Dit skok nie meer nie. Jy word oorblootgestel aan iets. Jy raak gewoond daaraan. Jy doen dieselfde. En afstand speel ‘n rol. As ek en jy knie-teen-knie oor ons verskille praat, mekaar in die oë kyk, gaan ons dit meeste van die tyd beskaafd probeer uitsorteer, humeure gaan opvlam, maar waarskynlik minder kwetsend wees. As ek jou nie in die oë hoef te kyk nie, is dit maklik om die sneller te trek en jou op die mees brutale wyse aan te val. Afstand maak dat jy mense as ‘n objek sien en nie as ‘n medemens nie, dat jy gewoon mense sonder enige respek behandel. “Almal doen dit, ek kan nie omgee of ek maar tot dieselfde vlak daal nie.” “Voertsek!” Voertsek het ek nog altyd net vir ‘n hond gebruik, maar dit is aanvaarbaar om dit op sosiale media vir iemand anders te sê…  Ons het nog altyd gedink dit is ongemanierd om in iemand se gesig te lag as jy nie met hom saamstem nie. Tog is dit gewoon met die druk van ‘n knoppie maklik om in iemand se gesig te lag as jy nie met hom saamstem nie. 😃
  • Haatspraak kry meer reaksie, meer “re-posts”, meer “likes” as wat woorde van omgee en liefde doen. (Partykeer wonder ek is dit nie ‘n geval van negatiewe aandag is beter as geen aandag nie.)
  • Sosiale media algoritmes voer jou met meer van dieselfde. Ek vertel vir Karina hoe negatief my sosiale media stroom op Facebook is. Sy sê dat sy hare glad nie so beleef nie. Hoekom nie? Ek het in die laaste tyd die “nuus” op sosiale media gevolg. Ek sou ‘n artikel lees en dan kyk hoe mense daarop reageer. En wat het die algoritme gedoen? Dit het my met meer van dieselfde gevoer. Omdat ek probeer sin maak het van hoekom mense so negatief reageer, en die bitterbekke wie ek normaalweg net sou ignoreer se “posts” gelees het, het ek net meer van hulle gesien. En so word ons gedompel in vlaag op vlaag van negatiwiteit.
  • Sosiale media laat my genoeg van die seer in die wêreld weet, wat maak dat die wêreld vir my ‘n al hoe donkerder plek voel. Ons word oorstimuleer met inligting op inligting.

So … wat doen ons om dit te help verander?

Die toekoms kan baie donker of baie anders wees. Persoonlik voel ek dit kan anders en beter wees. Hoe voel jy? Maar dan dink ek moet ons elkeen begin om te help bou aan ‘n beter samelewing. Een woord op ‘n keer…

Ek lees hierdie twee “tweets” in die Bybel,  en ek dink dit is nodig om dit te “re-tweet” 😉

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Efesiërs 4:26

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Romeine 12:17

Carey Nieuwhof sê in ‘n blog van hom: Here’s the best thing I know how to do: Process privately. Help publicly.

Moenie dadelik inspring en reageer op alles nie. Voordat jy op sosiale media reageer, prosesseer eers die inligting. Dink daaroor na. Bid daaroor. Praat met die Here daaroor. Doen dit in die privaatheid van jou binnekamer. Vra jouself af:

  • Hoekom voel ek so sterk oor dit wat iemand anders op sosiale media sê?
  • Waarom voel ek dat ek ook moet reageer? Wat is my regte motiewe? Probeer ek regtig help, of wil ek net raakgesien en ook gehoor word?
  • Is mense beter of slegte daaraan toe nadat hulle gelees het wat ek op sosiale media geplaas het?
  • Bring ek die beste in mense na vore met wat ek sê, of bring ek die heel slegste in mense na vore?
  • As ek die persoon in die oë kon kyk, sou ek dit steeds op dieselfde manier gestel het?

Prosesseer privaat en help publiek. Meestal as jy 24 uur gewag het voordat jy reageer, sou jy dalk glad nie reageer het nie … of dalk in beter smaak gereageer het … of ‘n opbouende bydrae tot die gesprek kon lewer.

Die mensdom is kwaad. Dit was nog altyd so. Dit word erger. Die kultuur neig na meer uitgesproke, meer negatief. Covid-19 blaas die vuur aan. Sosiale media gooi petrol op. Die gravitasiekrag trek ons samelewing af, ondertoe. ‘n Gesonde samelewing gebeur nie vanself nie. Ek en jy het nodig om die waarheid sagter, maar duideliker te praat as die stemme van die wêreld.

Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

Filippense 4:8

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo.

 As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

4 thoughts on “HP#2: MENSIG, MAAR DIE MENSDOM IS KWAAD!”

  1. Dankie Hennie dis nodig om so nou en dan weer bietjie in die Bek geruk te word, stem saam oor die Sosiale media….

Leave a Reply to Hetta Pieterse Cancel Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *