HP#3 : “JY IS NIE MEER DIESELFDE PERSOON MET WIE EK GETROU HET NIE.”

Jy het gehoor dat mense kla dat dit moeilik is om gelukkig getroud te bly, maar jy het nie besef dat dit regtig só moeilik kan wees nie.

Ek is seker jy het getrou met die hoop om jou lewe te deel met jou sielsgenoot, iemand wat net soos jy bereid is om die heel beste te maak van julle huwelik. Hoe op aarde het julle hier beland?

Miskien het al die woelinge van die afgelope paar maande daartoe bygedra. Jou leefstyl en normale lewensritme is omver gegooi. Die leef onder die swaard van Covid-19 en die ekonomiese druk wat deur die grendeltyd veroorsaak is, het sy tol geëis. Die spanning wat die onsekerheid bring, raak vir jou te veel. Die druk wat opbou moet tot uitbarsting kom, en die plek waar dit gebeur, is tussen die vier mure van julle huwelik.

Kom ons wees eerlik. Die laaste tye het abnormale druk op élke verhouding geplaas. Dit het ‘n vergrootglas op jou verhoudings kom plaas. Die sterk punte in jou huwelik is uitgelig. Dit is waarskynlik een van die dinge wat jou help om deur hierdie storm te kom en staande te bly, maar dit het ook ‘n vergrootglas op die krake in jou huwelik kom plaas. Krake in jou huwelik wat lankal daar was, seer in jou huwelik wat nie uitgesorteer is nie, tekortkominge in julle albei se mondering wat tot nou toe nie effektief opgelos is nie, is ewe skielik grotesk opgeblaas. Klein dingetjies wat jou nog altyd geïrriteer het, dryf jou op die oomblik teen die mure uit.

Miskien het jy dit ‘n paar keer die afgelope tyd gehoor … of dalk self gesê: “Jy is nie meer dieselfde persoon as met wie ek getrou het nie.” (Terloops, volgens ‘n prokureur wat egskeidingsaansoeke hanteer, is dit een van die dinge wat mense gereeld sê, wanneer hulle op die punt van ‘n egskeiding staan… “Jy is nie meer dieselfde nie. Jy het verander.”

Ek het eenkeer na ‘n praatjie van die gesinsterapeut en spreker, Hettie Britzz, oor die huwelik geluister. Sy het die huwelik vergelyk met ‘n tuin. “Die liefdestuin van jou huwelik.” Jy kan hierdie tuin in jou gedagtes in twee dele verdeel. Daar is ‘n “lushof”-kant (groen en welig) en ‘n “woestyn”-kant (droog en dor). In elkeen van hierdie kante is daar “stasies” (plekke van vertoef) waar jy jou in jou huwelik kan bevind. Hierdie stasies kan jou help om te onderskei waar jy jou bevind en hoe jy daaraan kan werk.

Kom ons pas dit toe op die uitspraak: “Jy is nie meer dieselfde persoon as met wie ek getrou het nie.”

Stasie 1 (in die woestyn) : By die tuinhekkie

Jip, die tuinhekkie van jou huwelik… Jy staan reeds met een voet op die sypaadjie … op pad uit. (Dalk het jy reeds uitgetrek “om mekaar spasie te gee,” sê jy.) Wel, geen huwelik kan floreer as jy in jou gedagtes al op pad uit is nie. Ek verstaan dat ‘n huwelik soms so toksies kan raak dat egskeiding dalk al opsie is. Maar die meeste mense skei nie omdat hulle huwelike toksies is nie, die meeste mense skei omdat hulle ongelukkige huwelike het. (LUISTER gerus na my boodskap van Sondag 16 Augustus hieroor.) Dalk voel dit vir jou of jou maat só verander het, dat jy nie meer kans sien vir julle huwelik nie. Ek wil jou aanmoedig om ‘n besluit te neem: “Egskeiding is nie vir my ‘n opsie nie.” Jy het hulp nodig om jou maat te vind en weer terug te kom by ‘n gelukkige huwelik. Dit is moontlik! Maar dit begin deur die tuinhekkie toe te maak…

Stasie 2 (in die woestyn) : In die “tool shed”

Jy bevind jou in die “tool shed”, omdat jy drooggemaak het. Jy het die vertrouensverhouding wat julle gehad het, geskend (of jou maat het en bevind hom/haar daar). Die “jy het verander” het te make met seer wat gebeur het, die onttrek van mekaar, weerhou van mekaar, afsydigheid, bitterheid wat ingetree het. Daar is net een manier om uit die “tool shed” te kom … deur vergifnis en versoening. Miskien moet jy met werklike berou sê: “Ek is jammer vir wat ek gedoen het en die mens wat ek geword het…” Dalk is jy die een wat moet vergewe.

Stasie 3 (steeds in die woestyn) : Op die buitelug skaakbord

Julle het nou al die skaakstukke rondgeskuif, diekant toe en daardie kan toe, dit is skaakmat. Julle kan net nie tot ‘n vergelyk kom oor die saak nie. Voorheen het julle dan altyd oor alles saam gestem, maar nou kan julle oor hierdie saak nie tot ‘n vergelyk kom nie. Die huwelik voel nie meer na die lushof wat dit was nie, dit voel of julle in die woestyn is. Die rede moet sekerlik wees “omdat my maat nie meer dieselfde persoon is as aan die begin nie.” Voorheen was hy/sy meer bedagsaam, respekvol, konsidererend, maar hy/sy het manipulerend, ongeskik, ontaktvol, liefdeloos, hard geword. Dalk is dit net nodig om weer na die skaakmat situasie te kyk en nie op mekaar te reageer nie. Dalk kan julle tot ‘n vergelyk kom, dalk kan julle mekaar halfpad ontmoet, dalk sal julle nooit met mekaar saamstem oor hierdie spesifieke saak nie. Aanvaar dat julle oor party goed verskillend gaan dink en mag dink. Kom tot ‘n vergelyk dat julle verskil. Respekteer mekaar se verskille. Beweeg doelbewus terug na die lushof kant van julle huwelik. “Ons huwelik en geluk is belangriker en ons liefde is sterker as verskille.”

Stasie 4 (aan die lushof kant) : Vasgehaak in die haakdorings

In ‘n gelukkige huwelik kan jy of jou maat jou vasloop in die haakdorings van die lewe en daar vashaak. Die vashaak het nie met jou huwelik te maak nie, dis ‘n persoonlike ding, maar dit kan jou huwelik op die lange duur aan die woestynkant laat beland. Niemand het voorsien dat jy of jou maat depressie kan kry, of aan drank, of aan pornografie of aan ander slegte gewoontes, verslaaf kan raak nie. “Jy is nie meer dieselfde persoon nie.” Eintlik is die rede dat ons brose mense is wat iewers aan die haakdorings vashaak. Was jy al aan ‘n haak-en-steek-bos vasgehaak? Ek praat nou van fisies vasgehaak aan so ‘n bos? Wel dan weet jy, jy het nodig dat iemand jou moet help om los te kom. Op jou eie raak jy net dieper verstrengel. As jy in die laaste tyd ervaar dat jy of jou maat “anders” is, emosioneel vasgehaak geraak het … dan het julle professionele hulp nodig. Jou huwelik is nie die probleem nie, die siekte is … die verslawing is … die emosionele letsel is … jou huwelik kan die lushof van herstel wees wat jou of jou maat deurhelp. Julle het hulp nodig, anders kan dit op die lange duur julle huwelik beïnvloed.

Stasie 5 (lushof kant) : Die waterput

Jou maat ís “anders” die laaste ruk – “kort van draad”, vinniger geïrriteerd, het ‘n korter lont, is afsydig … stiller as normaal, net nie sy/haar beste self nie. Die probleem is NIE julle huwelik nie, daar is NIE iemand anders nie. Moenie foute soek wat nie daar is nie. Ons elkeen beleef in die eb en die vloei van die lewe ons normale af tye, lae energievlakke, oormoegheid, siekwees,  druk by die werk, bekommernisse oor finansies (en daar is oorgenoeg op die oomblik hiervan). Eksterne faktore wat bydra tot spanning in die huwelik. Sien raak dat jou maat net nodig het om water te drink en “verkwik” te word uit die put. ‘n Ruskansie. Bietjie alleentyd. Om ‘n bietjie gepamperlang te word. Druk wat jy dalk kan help om van sy/haar skouers af te haal deur liefdesdade van diens. Dalk net om te hoor… “Ek glo in jou.” Tyd nodig om in die teenwoordigheid van God te wees.

Stasie 6 (lushof) : Die tuinbankie

Ons leef bymekaar verby. Dit is werk. Dit is kinders. Dit is my alleentyd met my stokperdjie. Dit is die … dit is daai. En as jy nie tyd maak om met mekaar te gesels nie … raak julle vreemdelinge vir mekaar. Maak ‘n staande “date” om saam te kuier, te gaan uiteet, koffie te drink. Hou die gesels tussen julle lewend. Dalk is dit al wat op die oomblik nodig is … om net saam op die tuinbankie te gaan sit en met mekaar te gesels.

Stasie 7 (lushof): Die fontein

Ek hoop van harte dat die meeste van ons die meeste van die tyd onsself híér in die huwelik bevind. By die fontein. Gelukkig. Vervuld. “Jy is nie meer dieselfde persoon as met wie ek getrou het nie.” Juis! “Ek is ook nie meer dieselfde persoon met wie jy getrou het nie.” Ons het gegroei. Ons het ontwikkel. In ‘n gesonde huwelik moedig mense mekaar aan om voortdurend te groei, te “verander”, mekaar beter te leer ken, te aanvaar en juis lief te hê omdat ons nie dieselfde is nie.

“My beminde bruid is ‘n tuin wat toegemaak is, ‘n tuin met ‘n muur om, ‘n fontein wat afgekamp is. 13 Jou liggaam is ‘n lushof, granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus, 14 nardus en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie. 15 Daar is ‘n fontein in my tuin, ‘n put met borrelende water, strome van die Libanon af.”

Hooglied 4:12-15

“Drink die water uit jou eie put. Drink by jou eie fontein.” 

Spreuke 5:15

Ek bid vir jou dat jy meer hiervan in jou huwelik sal beleef!

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo.

As jy graag wil aanteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *