HP#5 : MONUMENTAAL…

Dit is nou een van daardie ou woorde in Afrikaans wat in die laaste tyd ‘n tweede lewe gekry het. Monumentaal. Dalk is dit goed om in Erfenismaand oor monumente te gesels. Ek self het as ‘n kind aan die Voortrekkerbeweging behoort. Dalk iets wat min mense van my weet, is dat ek die Hoofleierswag-toekenning ontvang het. Dit maak my nie passievol oor monumente nie. Dit sê wel dat ek darem hier en daar ‘n monument of tien besoek het – dat ek weet dat waar jy vandaan kom belangrik is. Dit herinner jou nie net aan die goeie en hoogtepunte van die verlede nie, maar ook aan die foute en laagtepunte van die verlede.

Ons elkeen bou monumente … monumente met ons woorde, monumente met wat ons op Facebook en sosiale media plak, monumente met hoe ek leef. Monumente wat iets sê oor wie ek is, wat my nalatenskap aan die komende geslagte gaan wees.

Een van die voorregte wat ek vanuit my beroep het, is om met jong ouers te kan gesels oor die seisoen van ouerskap en hulle nalatenskap in hulle kinders se lewe. Die invloed wat ek as ouer op my kinders het, wel … is niks minder as monumentaal nie!

Ek deel graag SEWE MONUMENTALE MOMENTE in die opvoeding van jou kind wat sy/haar toekoms bepalend beïnvloed.

Kennis

Klein kindertjies is soos sponsies. Hulle het ‘n ongelooflike vermoë om kennis op te doen. “Hoekom? Wat maak so? Wat maak hy? Hoekom? Waar’s hy? Hoekom?” Die vrae maak ‘n mens soms lam… veral as jy ‘n lang dag gehad het. Antwoord maar sorgvuldig en geduldig op daardie vrae. So leer jy jou kind kennis opdoen.

Taal is ‘n vaardigheid wat ‘n kind klein-klein aanleer. Ek onthou my ma het altyd vir ons gesê om nie babataal met ons kinders te praat nie. “Praat normaal met jou kind. Jou kind moet taal hoor.” My kinders het ook hier en daar ‘n troetelwoordjie gehad wat ons gebruik, maar ons het in gewone stemme en gewone taal met hulle gepraat. Karina bry haar “r’e” baie onopvallend. Albei my kinders se woordjie “mier” het dus “miegggg” uitgekom en dit was kostelik. Ek het dan met hulle ‘n speletjie gespeel om hulle tongetjies te laat tril. En so het ons hulle taal geleer, hulle moedertaal. Hulle kon albei land en sand op ‘n baie vroeë ouderdom praat met taalgebruik wat mense verstom het.

Gewoon is ons as ouers dom as ons hierdie “sponsie”-fase nie ook gebruik om Bybelkennis aan ons kind te leer nie. Jou kind se heel eerste Bybel behoort daardie sagte “tandekry” boekies te wees. Nog voor hulle tande kry, begin jy al vir hulle lees. “God het die son gemaak. God het die bome gemaak. God het die apie gemaak. God het my gemaak.” En baie vinnig sal hulle leer om te sê: “Weer!” En jy hou nie op om hierdie kennis aan hulle oor te dra nie. Hoe gaan jou kind leer van Jesus as hy met die superhero’s op die TV grootword en jy hom nooit van Jesus en sy wonderwerke vertel nie? 

Dit is nie die skool of selfs die kerk se verantwoordelikheid om Bybelkennis aan jou kind oor te dra nie. Dit bly primêr jou as ouer se verantwoordelikheid.

Waardes

Waardes word klein-klein in jou kind se lewe vasgelê. Vir ons as kinders van God het ons ‘n Christelike waardestelsel wat ons aan ons kinders oordra. Dit is baie meer as moets en moenies of “omdat ek so sê”. Dit gaan oor die vrugte wat jy wil sien by jou kind – liefde, respek, gehoorsaamheid, verdraagsaamheid, eerlikheid, omgee, trots, nederigheid, verantwoordelikheid, naasteliefde. Gesonde gewoontes. ‘n Positiewe en gesonde uitkyk op die lewe. Vreugde, vrede EN VEEL MEER.

Dit is nie ‘n kurrikulum wat jy vir jou kind leer nie. Dit is waardes wat jy konsekwent inskerp by jou kinders. Jy help hulle om te verstaan hoekom ons volgens hierdie waardes leef. Jy gebruik die normale loop van die lewe en die spesifieke oomblikke wat jou kinders vir jou bied om lewensvaardighede te kweek.

Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Deuteronomium 6:7

Kinders gee vir jou sulke klein venstertydperke wat vir ‘n oomblik oopgaan, wanneer hulle oop is vir inspraak en wat jy nie moet laat verbygaan nie. Cobus was 5 toe hy vir my gevra het oor die “parental controle” knoppie op die “remote” van ons DSTV. “Waarvoor is die knoppie?” Ek sê toe vir hom: “Ek kan dit gebruik om te stel sodat jy sekere programme nie kan kyk nie.” “Soos watter?”, wou hy vraend weet. “Watter dink jy mag jy nie kyk nie?” “Seker scary movies, en met baie vloekwoorde, en met nudity”, antwoord hy. “Heeltemal reg.” En toe kom die vraag: “Watter een het jy gestel dat ek nie mag kyk nie.” “Nie een nie”, antwoord ek. Baie verontwaardig: “Nou hoekom nie?” “Sien jy dat pappa en mamma dit kyk?” , vra ek. “Nee”, sê hy. En toe kon ek hom in een sinnetjie ons waardes leer. “Ek gaan nie die parental controle knoppie stel nie, want pappa vertrou jou om dit nie te kyk nie. En totdat jy vir my wys dat ek jou nie kan vertrou nie, is dit nie nodig om die knoppie te gebruik nie.” Nodeloos om te sê dat dit toe nooit nodig was om die knoppie te gebruik nie. Ons het die gesprek ‘n paar jaar later opgevolg toe hy sy eerste take op internet moes doen, deur te wys vir watter tipe webtuistes hy versigtig moet wees en ook bietjie meer inligting oor hoekom en die gevare daarvan. Ook toe hy op hoërskool was, nog ‘n slag met dieper verduideliking hoekom iets soos pornografie skadelik is. Om uiteindelik met ingeligte keuses self sy eie waardestelsel te vorm.

So sal jou kinders oor elke belangrike aspek in die lewe vir jou die venster oopmaak om inspraak te kan gee in sy/haar lewe.

Die belangrikste oor waardes is dat waardes eerder gesnap, as geleer word. Dit beteken waardes word vasgelê deur dit wat jou kind sien en hoor by jou as ouer. Jou voorbeeld spreek harder as die waardes wat jy jou kind probeer leer.

Dissipline

Glo ek in vandag se tye waarin ons leef nog in dissipline? Absoluut.

Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou. 9 Gee jou aandag aan ‘n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ‘n regverdige, en sy kennis vermeerder. 10 Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.11 As jy wysheid het, sal jy lank lewe, jou lewensjare sal vermeerder word.

Spreuke 9:8-11

Ongelukkig is die meeste mense se benadering tot opvoeding: “Kinders is stout en moet goed word deur straf en dissipline.”

Met ander woorde (onuitgesproke het die volgende in ons opvoeding posgevat): Daar is reëls en wette. As jy die reël oortree, is jy stout. Jou ouers is kwaad vir jou, omdat jy stout was. Dit maak hulle harte seer. Hulle is teleurgesteld met jou gedrag. Jy moet gestraf word vir jou optrede. Straf het hulle kwaadheid laat afneem. Nou is jy weer goed omdat jy die straf gedra het. Omdat jy bang is vir nog straf, herhaal jy nie weer jou fout nie.

Dit is opvoeding onder die wet!

En die gevolg … dit kweek nie noodwendig verantwoordelikheid nie. (Dink maar daaraan toe ek en jy op skool was. Ons het die gesag van ons ouers en onderwysers uitgedaag. Drooggemaak op groot skaal. As jy uitgevang is … dan het jy die pak gedra. Daarmee was die rekening wat ons betref, betaal. Daar was nie noodwendig berou oor ons optrede nie. Dit het ons nie geleer om verantwoordelik op te tree nie, maar eerder net … hoe ek volgende keer die straf kan vermy! Is dit nie waar nie? Ons kla so maklik omdat kinders nie meer dissipline geleer word nie, maar het ons ooit die doel van dissipline verstaan?)

Wat is die doel van dissipline en tugtiging dan? Die uitgangspunt is: My kind bly waardig ten spyte van sy onwaardige optrede. Sy negatiewe optrede verander niks aan sy waardigheid om my kind, waarvoor ek lief is, te wees nie. Ek is nie kwaad en my woede moet afkoel deurdat my kind die straf moet dra nie. Hy is nie sleg en stout en moet eers deur straf weer reggemaak word met my nie. Dissipline gaan dus nie oor skuldigbevinding en straf nie, maar oor die bestuur van gevolge en besluite. My kind leer van kleins af dat hy verantwoordelikheid vir sy optrede moet aanvaar. Suksesvolle dissipline bring daarom positiewe besluite. Nie besluite wat vanuit vrees vir straf gemotiveer word nie, maar is ‘n positiewe besluit om verantwoordelik te lewe.

Hierdie is ‘n proses wat van kleins af plaasvind. Dissipline is seker een van die belangrikste boustene vir sekuriteit in ‘n kind se lewe. ‘n Ongedissiplineerde kind is ‘n onseker kind. Sy optrede is meestal ‘n uitroep na aandag, liefde en erkenning.

Die belangrikste oor dissipline is dat dit  konsekwent en met liefde toegepas word.

Tyd

Van al die monumentale momente wat my ouers in my lewe ingebou het, was die “tyd” wat ons saam spandeer het waarskynlik van die kosbaarste. Goeie herinneringe wat van kleintyd af in my geheue ingebou is. Saamlag. Saamspeel. Saam pret hê. Saameet. Saamwerk. Saam dinge doen. Saamkuier. Saamgesels (ook verskil en baklei). Saam in die tuin werk (al het ek niks daarvan gehou nie). Saam duiwevlieg (ek het dit ge-”luv”). Saamry. Saam vakansie hou. Saam kerk toe gaan. Saam betrokke wees. TYD. My ma by elke rugbyoefening, elke skoolaktiwiteit, elke buitemuurse aktiwiteit. My pa by elke rugbywedstryd, elke hoogtepunt, elke mylpaal in my lewe.

TYD ruil ek vir geen geld in die wêreld nie.

En dit is ook wat ek in die opvoeding van my eie kinders die grootste spyt oor het. Tyd waarop ek soms uitgemis het. Elke seisoen wat verby is, is vir altyd verby.

Soms dink ek ons paai ons met die woordjie “kwaliteit” tyd. Ek is so besig, maar wanneer ek tyd aan my kinders spandeer sorg ek dat dit “kwaliteit” tyd is. Kinders is nie ‘n stokperdjie of ‘n vakansie projek nie. Kinders het nodig om die lewe saam met jou te doen.

“Tyd is die waardevolste en belangrikste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee. Begin vandag om ‘n verhouding met hulle op te bou, want wanneer hulle ouer word is die geleentheid daarvoor soos ‘n venster wat stadig toegemaak word. Die grootste belegging wat ouers kan maak, is nie van geldelike aard nie – dit gaan oor die wyse waarop jy tyd met jou kinders spandeer.”

Craig Wilkinson

Liefde

Opbouende en onvoorwaardelike liefde. Woorde van liefde. Dade van liefde. Geskenke van liefde. Fisiese drukkies en gesonde aanraking. Karla is ‘n opbouende woorde, geskenkie en drukkie mens. Toe sy net kon begin skryf, het sy vir my ‘n briefie geskryf: “Omdou dat ek baie, baie lief is vir jou, baie dankie vir al die liefde. Liefies. Karla.” Toe sy op hoërskool was, het ek en Karina in Singapoer getoer. Karina wou vir oulaas in die winkels ‘n draai maak en ek wou graag die orgideë in die botaniese tuin gaan sien. Op die ou end spandeer ek heerlik ‘n rustige oggend in die natuur. Ek loop en dink aan my kinders. Ek skryf ‘n briefie vir Karla. Koop vir haar ‘n keramiekglas met ‘n orgidee daarbinne. “Onthou dat en baie lief is vir jou…” ‘n Klein monumentjie op haar spieëlkas om te “omdou”.

Seën

Net een sinnetjie hieroor. Begin voor jou kind se geboorte al om ‘n seën oor hom, oor haar, uit te spreek en hou daarmee vol tot aan die einde van jou lewe. Alles waaroor jy droom, hoop, bekommerd is – draai jy om in ‘n seën.

Jesus

Die heel belangrikste nalatenskap aan jou kinders… is Jesus. Dit gaan oor ‘n persoonlike, intieme verhouding, ‘n lewe saam met Jesus. Alles wat nodig is vir jou kind se opvoeding, voorsiening, beskerming en gesond-wees is ingesluit in dit wat Jesus aan die kruis en met sy opstanding voltooi het. JOU KIND MOET JESUS IN JOU EN DEUR JOU LEER KEN. Jou grootste voorreg as ouers is om Jesus aan jou kind voor te stel.

Kinders is net ‘n seisoen lank by jou in die huis. Nou is die beste tyd ooit! Gebruik dit wys!! Geniet elke oomblik!!!

Hennie Pienaar

Wil jy graag meer hoor oor die nuwe opvoedingsperspektief vanuit die kruis? “My-huis-onder-die-kruis” is ‘n kursus wat ons van tyd tot tyd in Dalpark Kaléo Gemeente aanbied.

Stuur vir ons ‘n e-pos, as ons jou persoonlik kan uitnooi wanneer ons weer hierdie kursus aanbied, na frikka@dalpark-kaleo.org.za

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.


Teken in

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *