HP#6 : LOUTER-VREUGDE EN KAROONOOI

September is normaalweg die tyd in ‘n duiweboer se jaar wat die langafstandwedvlugte geskeduleer word. Vroeg September word gewoonlik gekenmerk deur tipies einde van die winter/begin lente se noordwestewinde wat uitwoed oor die stowwerige Karoo en Vrystaatse vlaktes. Middel September kan dit sommer skielik warm raak met reën plek-plek. Vir elke gesoute duiweboer hou die langafstandwedvlugte gewoonlik sy eie bekoring in. Dit is jou beste teen die heel beste, dapper teen die elemente, duifies wat hulle hartjies uitvlieg om tuis te kom.

So terloops, hul normale spoed is rondom 1450 meter per minuut (85km per uur). Dit is die gemiddelde spoed wat hulle handhaaf op ‘n windstil dag. Met wind van voor kan die spoed afkom na 1050-1100 mpm. Die fokus in vandag se tye is op wedvlugte waarop die duiwe ‘n billike kans het om voor sononder tuis te wees. (Uiterste weertoestande word vermy en duiwe word eerder ‘n dag later gelos indien die weer ongunstig is.) Die gevolg is dat die spoed baie selde na minder as 1000 mpm daal. (Geen duiweboer wat lief is vir sy duiwe hou daarvan dat duiwe aan moontlike rampvlugte blootgestel word nie. Deur goeie bestuur word dit grootliks vermy). Met wind van agter kan duiwe natuurlik ook teen ‘n spoed van 2000 of meer meter per minuut vlieg (120 km/h). Die meeste van ons duiweboere hou egter ook nie van hierdie tipe vlugte nie. Duiwe is geteel om soos swaeltjies langafstande aaneen af te lê. Die dag na die vlug sal jy meestal nie kan onderskei watter duiwe die vorige dag honderde kilometers afgelê het nie. Hulle het ‘n verbasende kompas en vermoë om te herstel wat elke duiweboer steeds na baie jare van duiwe vlieg, in verwondering hou.

My liefde vir duiwe en dié sport kom van kleins af. Dit was die ding wat ek en my Pa saam geniet het. Later het ek dit verruil vir rugby, maar kort na my studies het ek dadelik weer begin boer met duiwe. Dit is maar deel van wie ek is. Ek het al ‘n paar keer opgehou en weer begin. Ek het ook nie elke jaar deelgeneem aan wedvlugte nie. Soms het ek van my lekkerste seisoene gehad wanneer ek slegs met ‘n klein spannetjie duiwe gevlieg het. Uiteraard kan ‘n mens dan nie so kompeterend wees nie. Die laaste klompie seisoene het ek verkies om in vennootskap met vriende deel te neem. So is die gedugte kombinasie van Team Grove en Pienaar gebore. (Ons was verlede jaar die Brakpan Klubkampioen en het 22 wedvlugte gewen. ‘n Ongeëwenaarde rekord vir die klub met ongeveer 20 klublede).

Ek onthou vandag nog my en my Pa se eerste wen. Dit was maar ‘n taai leerskool met ‘n sukkel-sukkel begin. Die laaste wedvlug van die jaar het aangebreek. Ons het ‘n paar goeie plekke gevlieg deur die seisoen, meestal met ‘n “bluebar” (sy kleur 😉) mannetjie. Ons het hom “Kampioen” gedoop omdat hy omtrent altyd ons eerste duif was.) Die laaste wedvlug was van Matjiesfontein. (Matjiesfontein terug na ons hok was meer as 1000km). Van vroegoggend was ek kort-kort hok toe. “Kampioen” het groot kuikens in die nes gehad en sy wyfie het net weer begin sit op eiers. Ek het seker gemaak dat die babas kos kry, dat daar water in die hok is, dat die klok reg is. (Ons het toe nog met handklokke geklok.) Skemeraand het ek meer die geswiep van die vlerke gehoor as wat ek die duif gesien het. Met ‘n hart wat in my keel klop het ek gesien hoe die skaduwee reguit in die hok induik. Dit was “Kampioen”! Met bewende vingers het ek die rubberring van sy poot afgetrek en hom geklok. Die enigste duif terug op die aand. Ons heel eerste wen! ‘n Klassieke langafstand wedvlug wat elkeen begeer om te wen.

Toe ek in die Langkloof weer begin duiwe vlieg, het al die duiweboere vir my ‘n paar kuikens geteel. Almal was by my in die gemeente en ‘n paar was saam met my op die kerkraad. Dit was altyd ‘n goedige gespot en gesels oor ons duiwe. Die laaste vlug van die jaar was ‘n dubbel vlug van Kroonstad en Parys. Dirk Brummer, die Posmeester, het ‘n paar duiwe van Kroonstad deurgekry op die dag. Ek niks. Niemand anders ‘n veer nie. Dirk se duiwe was in vorm. Om ‘n kans te hê op die Parys-wedvlug sou ek baie vroeg ‘n duif moes hê. Ons almal se gevoel was dat die duiwe naby is. Vroegoggend het ek opgestaan, koffie in die hand, oë tierend in die rigting wat die duiwe moet kom. ‘n Geoefende oog het die twee duiwe van vêr af sien kom. Kroonstad duiwe of die eerste Parys duiwe? En dan split die twee duiwe. Een is op pad na my toe. Een is op pad na Dirk toe! Die duif maak net een draai. Ek herken haar in die lug: Dit is “Valie” en sy is in die Parys vlug…  (“Valie” se storie is ‘n storie vir ‘n ander keer. Die mak duifie wat op my skouer sit as ek in die hok ingaan). Dirk se duif het daardie dag twee draaie om die hok gemaak. En so wen “Valie” toe die langste vlug van die seisoen. (Sy sou later ‘n dubbel wenner word, maar soos ek sê … ‘n storie vir ‘n ander keer).

Langafstandvlugte het ook sy kwota teleurstellings gehad. Nadat ons uit die Langkloof weg is Schweizer toe, het ek nie dadelik weer aan wedvlugte deelgeneem nie. Die eerste jaar wat ek weer begin het, het my span swaar gekry. Die aanslag in Schweizer was baie meer professioneel en kompeterend. Met ‘n paar aanpassing in my program durf ek die nuwe seisoen aan. Ek beleef onverwags ‘n uitstekende seisoen. Die laaste vlug op die program breek aan, ‘n dubbel vlug vanaf Bellville. Ek lê derde in die klub teen legendes soos Andre Carelsen, Willie Munnik en Butch Einkamerer. Ek is enkele punte voor Butch. Ek werk dit oor en oor in my kop uit. Sou Butch al twee wedvlugte wen, moet ek minstens in elke wedvlug ‘n vyftiende plek kry om my voorsprong te behou. Dit is moontlik … maar dit gaan taai wees. Bellville is anderkant die berg. Net die beste van die beste duiwe sou plekke behaal. Net een duif, elke kant, is al wat ek nodig het. Daardie aand is daar geen duif in Schweizer deur nie. Die nag word ek wakker van ‘n stormwind wat waai. ‘n Stoor in die omgewing se dak het afgewaai. En my duiwe is iewers in die wind en weer. Teen dié tyd is wen en verloor nie meer in jou kop nie. As my duiwe net terugkom, is ek tevrede. Butch wen toe albei vlugte (‘n merkwaardige prestasie). Ek behaal ‘n vyftiende plek in die een wedvlug. En in die ander vlug … behaal ek geen plek nie. Butch wen my met 15 punte! Kop optel … en weer probeer.

In Brakpan klub kry ek jare daarna die geleentheid om die bordjies te verhang. Dit is ‘n nek-aan-nek stryd tussen my en die jarelange klubkampioen, Hennie Botha. Die laaste vlug van die seisoen breek aan, ‘n dubbel vlug van Drie Susters en Beaufort-Wes. Oom Hennie is voor, maar met ‘n goeie poging van my span kan ons hom vang. Dit sou egter ‘n uitsonderlike prestasie verg. Ek sou oom Hennie moes klop op sy eie forte … die langpad, veral as dit warm raak en net ‘n paar duiwe op die dag deur is. Boonop gaan een goeie duif weerskante nie help nie. (Daardie jaar is ons klub kampioenskap bereken op die volpunte stelsel. Elke duif in die top 30 kry volpunte. Om die kampioenskap te wen sou jy dus soveel as moontlik duiwe in die punte moes hê). Daardie Saterdag is dit warm. Nog warmer as verwag. Ons verwag egter dat die duiwe op albei vlugte kan deurkom. My duiwe is in perfekte vorm. Ek behaal van Drie Susters af die 3 de, 4 de, 9 de,18 de, 20 ste en 27 ste posisies (almal op die dag deur) en vanaf Beaufort-Wes die 4 de, 6 de, 9 de,11 de,15 de, 19 de, 20 ste, 21 ste, 26 ste en 29 ste posisies (5 deur op die dag). Ek wen nie die wedvlugte nie, maar dit bly een van my beste duiwe prestasies.

‘n Jaar gelede is ons op vakansie. Ons eet by Drie Susters en ry deur Beaufort-Wes. Moeg gery in my voertuig … kan ek nie dink dat ons duifies van hier af – nie net die pad terug kry huis toe nie, maar dit doen met deursettingsvermoë en spoed wat eintlik onmoontlik klink … en is. “Dit is my droom”, sê ek vir my gesin, “om nog die Drie Susters en Beaufort vlug te wen.” (Dit is die enigste twee vlugte op ons program wat ek nog nie kon wen nie). Ek neem ‘n foto en stuur dit vir my spanmaats met die woorde… “Ek het solank die plek gaan verken waar ons duifies losgelaat word en ‘n padkaart vir hulle daar opgesit. Hierdie jaar…” En so breek die laaste wedvlug van die 2019 seisoen aan. Die einde van ‘n seisoen in meer as een opsig vir ons. My spanmaats is op pad na Australië – wat die einde van ons vennootskap beteken. Ons sit in stilte en wag dat die duiwe moet kom. Dit is soel, die bome gooi lang skaduwees. Ons sien die stippeltjie. Geen twyfel dat dit ons eerste duif is nie. Dit is “loutere vreugde” as sy sierlik haar vlerkies toemaak en duik om op die landingsbord te gaan sit. Ons voel aan, dit is goeie tyd. Drie Susters … 814 km. 1310 meter per minuut. 1e Klub. Die duiwe kom in soos boeings op ‘n vliegveld. Die een na die ander. Ons is ook 2 de, 3 de, 7 de, 9 de, 25 ste en 26 ste. Nou die asem ophou vir die Beaufort-Wes vlug. Hulle moet naby wees! Dan sien ons die stippeltjie. (Mens weet wanneer dit die volgende vlug se voorste ene is). 870km. Dit is 17:06:10 wanneer die elektroniese klok haar registreer. Hulle is die oggend 06:25 losgelaat. 1356 meter per minuut. Sy het tyd opgemaak op ons Drie Susters wenner se spoed. Hierdie kan ‘n goeie tyd wees op Unie vlak. Die aand kom die gelukwensings in. Eerste en tweede klub. Eerste in die Gauteng Unie teen meer as 150 duiweboere se duiwe. Karoonooi!

“Louter-Vreugde” (wenner en 3 de Klub) en “Karoonooi” (Dubbel klub en Unie wenner) word nou vir die eerste keer op stoet gebruik. Nodeloos om te sê dat “Karoonooi” ‘n kombinasie uit die Carelsen en Einkamerer lyne is, wat destyds vir my ‘n duiweles op Schweizer geleer het, en my spanmaat se top duiwe wat van hom Unie kampioen gemaak het. http://xalbadorpigeons.weebly.com/

Alhoewel die kompetisie natuurlik ‘n belangrike deel van duiwe vlieg is en dit lekker is om my goeie deel van sukses te kon hê, is dit egter die liefde vir die duif wat my in die sport hou, die versorging van die duiwe, die opgewondenheid oor ‘n span jong duifies, die spesifieke drome vir ‘n broeipaar, die vroegoggende nog voor sonop jou duiwe los met ‘n fles koffie byderhand, die afrigting van ‘n span duiwe om suksesvol te wees. Die fyn wetenskap van teling, kos, oefenmetodes, duiwe se gesondheid en veel meer. Ek het vandag net met jou gesels oor die opwinding van die laaste vlug van die jaar.

Dit is ‘n deel van wie ek is. Dit wat my “ek” maak. So glo ek, het Vader ons elkeen uniek en spesiaal gemaak. God het ons “gedroom” voor ons gemaak is. God het ‘n skepppingsdoel vir ons elkeen. Sy skeppingsdoel vir ons, is dat ons verhouding met Hom sal hê en dat ons binne ons uniekheid, en ons natuurlike talente, en ons spesiale gawes, vervulling sal beleef. Hom sal eer en mee sal werk in die uitbouing van sy koninkryk. Vir God gaan dit meer oor wie ons is, as wat ons doen en presteer. Om net te wees wat Hy ons gemaak het om te wees. Soos ek die voorreg kon hê om ‘n “Kampioen” te ring, ‘n “Valie” se terugkoms te aanskou, “Louter-vreugde” te ervaar,  groot drome vir “Karoonooi” te hê, so het God ons elkeen bedink, beplan, ‘n naam gegee wat Sy naam vir ons is, ‘n droom wat vervulling vind binne verhouding met Hom.

U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. 14 Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! 15 My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. 16 U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. 17 Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! 18 As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees.

Psalm 139:13-18

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

4 thoughts on “HP#6 : LOUTER-VREUGDE EN KAROONOOI”

  1. Ek het die artikel baie geniet my laat terugdink aan die boek “Twee vir ‘n stuiwer”
    wat ek met my gr 7- klas behandel het. Groete

  2. Meisie van Aardt

    Ai Hennie, ek het vandag eers hierdie “Louter Vreugde en Karoonooi” gelees en het dit vreeslik geniet. Miskien omdat my seun Wouter ook as jong seun duiwe gevlieg het. En dan kwoteer jy aan die einde ‘n deel van my gunsteling Psalm! Ek sien uit na die volgende Post en baie geluk met jou duiwe se prestasies. Ek weet dat dit baie liefde en toewyding verg.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *