HP#8 : Verbleikblom

In ons voortuin is die Brunfelsia pauciflora “floribunda” struik nou in volblom. Die pers en wit verkleurmannetjie plant gee kleur aan die tuin wat herstel na die wintervaal. Die soet geur van die blomme laat dit hemels ruik. Elke jaar middel September maak die eerste blommetjies hul verskyning, herinner dat die winter verby is, en bekoor ons tot laat in die somer. Maar elke blommetjie vertel net ‘n driedagstorie. Gister se donkerpers blomme word vandag se ligpers en môre se bleekwit, vandaar dan ook die naam “yesterday-today-and-tomorrow”. Die Brasiliaanse “reënboom” staan in Afrikaans bekend as “verbleikblom”.

“Verbleikblom”, dit is WAT ek is…

Die 2020 lente voel vreemd. Dit voel of dit te gou is. Moes dit dan nie nou eers herfs gewees het nie? Iewers het ek dae verloor. Tog voel dit amper ook of die lente laat is. Die 2020 winter was lank. Koud.

Die eerste donkerpers, ligpers en bleekwit blomme wat deur die winter breek, herinner my aan wat ek is.

Verganklik. Broos. Vlugtig. Verbleikblom.

Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: 16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.

Psalm 103:15

‘n Onsigbare virus kan ‘n pandemie word.

Die wêreldekonomie kan oornag in duiwe stort.

Aardse sekuriteite kan wankel.

Die kerk kan leeg loop.

‘n Noodtoestand kan aangekondig word en jou vryheid beperk.

Jy kan ‘n geliefde by die hospitaal groet … om nooit weer te sien nie.

Begrafnis hou sonder dat julle mekaar mag vashou.

Verbleikblom. Gister in my fleur. Vandag vaal. Môre verby.

Dit is nodig om soms oor die kortstondigheid van ons lewe op aarde na te dink.

70-80 jaar is nie so lank as wat dit klink nie.

‘n Honderd jaar is waarvoor ons mag mik, en selfs na meer, maar nie almal bereik dit op aarde nie.

Soms is lewe net te vinnig, voortydig verby.

Kinders is net ‘n seisoen in die huis.

‘n Lewensmaat is net vir ‘n tyd geleen.

Gister is verby, soos al die ander gisters van die lewe.

Dit was nodig vir my om dit weer te besef in hierdie 2020 lange winter, uitgestelde lente, tog vreemd vroeg-voel verbleikblom-bloeisels.

Dit is wát ek is… Verganklik. Broos. Vlugtig. Verbleikblom.

Maar tog definieer dit nie wié ek is nie.

“Reënboom”, dit is WIE ek is…

Alhoewel ‘n “yesterday-today-and-tomorrow” blom, in drie dae donkerpers, ligpers, bleekwit verbleik – is dit nie ‘n begrafnisblom nie. Die struik hier in my voortuin staan nie in die teken van rou nie. Inteendeel, dit is uitbundig, amper oordadig, oorweldigend …

… vol vreugde. Belofte. Vrolik. Reënboom!

Dit is wie God my gemaak het om te wees.

Die Gees van die Here my God het oor my (Jesus. HP.) gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, 2 om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, almal wat treur, vertroos, 3 die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Jesaja 61:1-3

Gesalf met vreugde. Geplant om sy roem te vermeerder. Om ‘n hemelse reuk op aarde te wees. Om in al die skakerings van my lewe in donkerpers, ligpers en bleekwit aan te kondig dat die wintertyd verby is! Draers van hoop.

In die Covid-pandemie.

In die ekonomiese onsekerheid.

In hierdie angsbevange werklikheid.

In die haatdraende en verdelende wêreld.

In die uitsiglose en negatiewe dampkringe waarin ons leef.

ĺs ek …

… vol vreugde. Belofte. Vrolik. Reënboom!

Gister, vandag en môre dieselfde!

Dawid, wat in Psalm 103 praat van ons kortstondigheid, wil egter nie die klem laat val op ons verganklikheid nie, maar op God se onverganklike getrouheid.

Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: 16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. 17 Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte.

Psalm 103:15-17

Daarom stel ons nie ons vertroue in ons self en aardse sekuriteite nie:

Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 7 gras verdor en blomme verwelk as die wind daaroor waai. 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Jesaja 40:6-8

Die woord van God bly vir ewig. Die beloftes van God verander nie. Jesus is die ewige Woord van God, by ons.

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Hebreërs 13:8

As die verbleikblom my herinner aan my kortstondigheid, dan bevestig dit terselfdertyd ook die karakter van God. Gister, vandag en môre dieselfde! In elkeen van my gisters wat verby is, was Jesus daar. In die uitdagings wat ek nou in die oë kyk, is Hy by my. Die môre wat nog moet aanbreek sal Hy sonder twyfel dáár wees vir my. Onveranderlik dieselfde.

Blomhoek. Pauciflora. Patmos.

Drie plaasname in die Lindley-Arlington omgewing waarmee ek groot geword het.

Verbleikblom. Gister in my fleur. Vandag vaal. Môre verby?

Nee, gister was ‘n “Blomhoek”. Die vroeë blommefleur van my lewe met die eerste botsels wat belofte inhou.

Vandag. Brunfelsia pauciflora “floribunda”. Nie min of geringe blomme nie, maar blomme in oorvloed (“in abundance”). Om ‘n hemelse reuk te wees.

Môre. Patmos! Jesus sal verseker daar wees om my te ontmoet. ‘n Persoonlike ontmoeting met Hom. Tot in ewigheid! Reënboom.

“Verbleikblom”, dit is wat ek is… “Reënboom”, dit is wie ek is… En Jesus – gister, vandag en môre dieselfde!

Verbleikblom ritueel

Vir begin Oktober wanneer die verbleikblom in volle bloei staan:

VERSTAAN jou verganklikheid. VIER jou lewe. VERTROU Jesus.

Pluk drie blommetjies: donkerpers, ligpers en bleekwit.

Neem die donkerpers blommetjie en sê dankie vir iets uit gister.  Frommel die blommetjie en laat los ‘n wrok, verwyt of bitterheid wat jy koester.

Neem die ligpers blommetjie en spreek ‘n seën oor ‘n uitdaging wat jy nou in die oë staar. Kies die lewe. Frommel die blommetjie en neem ‘n besluit oor ‘n gewoonte waaraan jy wil werk, iets wat jy wil doen sodat jou lewe ‘n hemelse geur sal versprei en vol in blom sal wees.

Neem die bleekwit blommetjie en spreek jou vertroue in Jesus uit. Rus ‘n oomblik in sy teenwoordigheid. Frommel die blommetjie op en laat los ‘n vrees of bekommernis by Jesus wat gister, vandag en môre dieselfde is.

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

4 thoughts on “HP#8 : Verbleikblom”

  1. Uysaline de Wet

    Ek het vandag vir die eerste keer die woord “Verbleikblom” gehoor. Baie dankie ds Hennie vir hierdie kosbare gedagtes……hierdie struik met sy geurige blommetjies sal my voortaan altyd weer daaraan herhinner.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *