HP#10 : HOU JOU MAAT SE LIEFDESTENK VOL

Deel van die lekker onthou uit my studentedae is die platsak wees. Alhoewel ek nie veel besit het nie, was dit sorgvrye dae. My fiets moes my meestal bring waar ek wou wees, maar dan was daar darem die ou bruin Vollatjie wat ek gery het, vir huis toe gaan en iemand spesiaals uitneem vir die aand. Brandstof was ‘n luukse artikel.

Die eenkeer in ‘n kwartaal se naweek huis toe, was kosbare tye. Die tye om die eetkamertafel sit en kuier, Ma wat kos aandra en bederf, Pa wat wil weet of ek darem tussenin ook swot, broers wat alles wil weet oor die studente se manewales. En dan wanneer die naweek ten einde loop, die voorreg om op Lindley te gaan petrol ingooi. “Maak maar vol, dankie. Op die boek.” Petrus, die petroljoggie, wat met die boek kom, alles klaar ingevul en groet: “Lekker ry. Kom maar weer!” As jy daar wegry, dan het jy geweet. “My tenk is weer tot oorlopens toe vol.”

Vyf tale van die liefde

Dr. Gary Chapman, terapeut en skrywer van die boek “Vyf tale van die Liefde”, sê dat elke mens ‘n emosionele tenk het wat wag om met liefde gevul te word. As jy dink dat jy net kan ry en ry met hierdie “huweliksmotortjie” van jou, sonder om die brandstof aan te vul, gaan dit jou iewers langs die pad laat staan.

Ons het nodig om ons huweliksmaat se emosionele tenk met liefde vol te maak. Ons gee egter nie op dieselfde wyse uitdrukking aan ons liefde nie, en net so verskil ons in ons voorkeur hoe ons liefde wil ontvang. Mense bewys en ontvang liefde op verskillende maniere. Dr. Chapman het vanuit sy jarelange persoonlike berading vir getroudes vyf tale van die liefde geïdentifiseer: Opbouende woorde, gehaltetyd, geskenke, diensbaarheid en fisiese aanraking.

Dit is nodig dat jy leer om jou maat se voorkeur liefdestaal te “praat” ten einde sy/haar emosionele tenk vol te hou.

In hierdie tyd, waar daardie baie druk op huwelike is, mense se emosionele tenke leeg is, kan dit dalk sinvol wees om net weer te kyk na die verskillende liefdestale en te verstaan hoe jou maat se behoefte aan liefde vervul kan word.

  • Opbouende woorde

Die regte woorde op die regte tyd, laat jou maat se gemoed dadelik opflikker en laat hom/haar geliefd voel.

Dit beteken komplimente vir spesifieke dinge wat jy aantreklik vind en opregte woorde van dank vir spesifieke dinge wat jou maat doen waarvoor jy dankbaar is. Bemoedigende woorde bevestig dat jy in jou maat se vermoë glo, dat jy omgee en hom of haar ondersteun. Vriendelike woorde bou op. Vermy afbrekende kritiek.

Jou maat wil dit hoor: “Ek is lief vir jou.” “Ek waardeer wat jy doen.” “Jy lyk mooi.” “Ek glo in jou.”

  • Gehaltetyd

Niks bevestig jou liefde meer as onverdeelde gehaltetyd wat jy en jou maat saam spandeer nie.

Ditgaan oor saamwees, met gefokusde aandag. Doen dinge saam met jou maat, met onverdeelde aandag – gaan eet saam, kyk mekaar in die oë, gesels met mekaar. Gaan stap lang ente. Geniet mekaar se teenwoordigheid sonder die onderbreking van selfone of kinders wat nóú jou aandag verg. Wanneer jou maat vir jou iets vertel, luister aandagtig en hoor ook jou maat se emosies agter die woorde.

  • Geskenke

Jou liefde vind uitdrukking deur die gee van ‘n betekenisvolle geskenk.

Dit hoef jou nie noodwendig ‘n fortuin te kos nie. ‘n Handgemaakte geskenk of kaartjie, of ʼn blom uit die tuin kan wondere verrig. Daar is ook die geskenk van jou daarwees, veral in ʼn krisistyd of wanneer hy/sy ontsteld is. Die belangrikste is dat jy dit wat jy gee, met oorgawe en entoesiasme doen. Onthou altyd spesiale geleenthede soos jul huweliksherdenkings en jou maat se verjaarsdag. Om ‘n geskenk te ontvang gaan nie oor oppervlakkige materiële gewin nie, dit gaan oor wat die geskenk verteenwoordig: “Dat jy met liefde aan my gedink het toe jy hierdie geskenk uitgesoek het, omdat ek vir jou belangrik en spesiaal is.”

  • Diensbaarheid

Vir jou maat spreek dade harder as woorde.

Dit is om vir jou maat dinge te doen soos kos maak, skottelgoed was, ander huistake te verrig, of te help met die kinders se versorging. Bied aan om jou maat te help met tuinwerk of om die motor te was. Die towerwoorde is altyd: “Ek sal jou help”. Ander dinge, soos om jou maat soms met ontbyt in die bed te verras, of tee te maak sonder dat sy daarvoor vra, is ook tekens van diensbaarheid. En doen dit sonder om daaroor te kla. Indien diensbaarheid jou maat se liefdestaal is, sal hy/sy floreer wanneer jy spesiale dinge vir hom/haar doen, veral as dit boonop vrywillig en onverwags is. Woorde en geskenke kom dalk vir jou maat voor as te maklik en gerieflik, maar dade van liefde verg beplanning, tyd, energie en wys dat jy werklik omgee.

  • Fisiese aanraking

Intimiteit en liefde word uitgedruk deur liefdevolle aanraking.

Hierdie taal geskied sonder woorde, deur die wyse hoe jy aan jou maat raak. Liefdevolle aanraking kan doelbewus wees en jou volle aandag asook tyd verg, soos ʼn skouer- of rugmassering. Dit kan ook terloops wees en slegs ʼn oomblik van jou tyd in die verbygaan vra – ʼn hand op sy skouer terwyl jy tee maak, of oor haar hare streel wanneer jy by haar verbystap. Om naby mekaar te sit en hande vas te hou terwyl julle TV kyk, is kosbaar vir ʼn persoon vir wie fisiese aanraking belangrik is. ʼn Drukkie en ʼn soentjie, tydig en ontydig, sal jou maat laat blom. En om haar styf vas te hou in krisistye, sal meer troos as niksseggende woorde.

Ontdek wat julle elkeen se liefdestaal is

So kan jy jou primêre liefdestaal vasstel:

  • Wat doen jou maat (of doen hy/sy nié) wat jou die seerste maak? Die teenoorgestelde daarvan is waarskynlik jou liefdestaal.
  • Wat is dit wat jy in die verlede die meeste van jou maat gevra het, of wat jy steeds gereeld vra? Dis waarskynlik wat jou laat voel dat hy/sy jou liefhet.
  • Hoe betoon jy liefde aan jou lewensmaat? Dis waarskynlik jou eie liefdestaal.

Skryf dit neer, asook die ander vier liefdestale in volgorde van belangrikheid. Naas jou primêre liefdestaal is van die ander dalk ‘n sekondêre liefdestaal wat jou vervuld laat voel. Deel hierdie inligting met mekaar – so leer julle mekaar se behoeftes ken.

Jy kan ook die vraelys by https://www.5lovelanguages.com/profile/couples/ voltooi, om jou te help om jou liefdestaal te ontdek.

Hoe om jou maat se liefdestenk te vul

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. 2 Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. 3 Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

1 Korintiërs 13:1-7

WEEKLIKSE VISIE VRAE VIR OORDENKING EN BESPREKING

  • Watter impak het die grendeltyd en daaropvolgende finansiële druk op huwelike gehad?
  • Deel met ons hoe die VYF TALE VAN DIE LIEFDE jou in jou verhouding met jou huweliksmaat of kinders gehelp het.

Laat gerus hoor wat jy dink. Meld aan vir ons volgende huweliksverrykings naweek of ons jaarlikse kursus vir verliefde, verloofdes en pasgetroudes.

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *