HP#11: ‘N NUWE OPVOEDINGSPERSPEKTIEF

Die verskillende vlakke van inperking het die afgelope maande geweldig baie druk op ouers en gesinne geplaas. By die bekommernisse oor die virus, finansiële druk, verandering in werksomgewing, politieke spanning, ekstra druk op die huwelik, moes elke ouer op ‘n ander vlak verantwoordelikheid neem vir sy kind se totale opvoeding. Alhoewel onderwysers baie moeite gedoen het om deur sosiale media kinders aanlyn te onderrig, moes ouers self ook ‘n baie groot rol speel in die akademiese onderrig van hulle kinders. Alhoewel dit soms haas onmoontlik gelyk het om te doen, het ouers hierdie rol met toewyding omhels. Alles is natuurlik nie net sleg nie, en sekerlik het dit elkeen van ons nuut laat dink oor die rol en aanslag van opvoeding in ons kinders se lewens. Het ons kinders al die kompetisie, die sogenaamde baie “geleenthede”, ekstra klasse, oorvol programme en geweldige druk werklik nodig? Het dit nie ‘n baie groot monster geword wat ons en ons kinders insluk nie? Is die norm wat ons as “normaal” aanvaar het, werklik die normaal wat ons vir ons kinders wil hê?

Ek gaan nie op hierdie vrae antwoorde probeer gee nie. Dit is gewoon vrae wat ons elkeen eerlik vir onsself moet beantwoord. Ek wil wel vir jou ‘n paar pennestrepe, vanuit die nuwe opvoedingsperspektief wat die kruis vir ons bied, trek.

Die agtergrond : Waarom ‘n nuwe opvoedingsperspektief?

Elke mens is in ‘n groot mate in sy menswees die produk van eksterne faktore. “Wie ek is”, word bepaal deur dit wat ek geneties van my ouers ontvang het, die opvoeding van die huis waarin ek grootgeword het en ander opvoedkundige rolspelers, die invloed van die wêreld en my portuurgroep asook traumatiese dinge wat met my gebeur het. My menswees word dus grootliks deur faktore van buite beïnvloed.

Die identiteit wat God vir my gee, spruit vanuit ‘n droom wat Hy van ewigheid af oor my het. God het my gemaak om in ‘n liefdesverhouding met Hom te staan. Sy skeppingsdoel vir my is dat ek as sy beeld Hom sal verteenwoordig en sy koninkryk van lig en liefde op aarde sal vestig. Hierin het ek ‘n unieke rol te speel, omdat ek ‘n unieke persoonlikheid, talente en gawes het. My ware identiteit word van binne af vasgelê, vanuit die waarheid wat God deur sy Gees in my tot my wil spreek.

Deur dit wat Jesus vir ons voltooi het aan die kruis, is ek waardig gemaak om God se Gees in my te ontvang. Maar totdat dit gebeur, is my gees dood en is daar geen “inspraak” van binne om my te vorm nie. Dit beteken nie dat die Gees tot op daardie stadium geen invloed in my lewe het nie. Van “buite” af spreek Hy waarheid tot my, roep Hy my, verklaar Hy sy liefde aan my, nooi Hy my tot verhouding met God. Maar die Gees se stem is ‘n stil stem teenoor die harde stemme vanuit die wêreld. Om in ‘n Christusfamilie groot te word, moes ons ouers vanuit verhouding met God waarheid met ons deel, totdat dit ons waarheid word, totdat ek self toetree tot verhouding met God en sy Gees wat my van binne af wil verander deur my ware karakter te bevestig. Die hartseer is dat ons in ‘n ouerhuis opgroei waar daar ‘n vakuum bestaan, omdat hulle self geen lewende verhouding met God ken nie. Of dat ouers self van hulle gebrokenheid dieselfde foute wat hulle ouers gemaak het, in hulle opvoeding herhaal. Of dat ouers slegs godsdiens aan hulle kinders voorhou. Dat selfs die waardes wat hulle hul kinders leer vanuit die “kultuur” en “moet en moenies” van godsdiens kom, en nooit werklik verhouding met God modelleer nie. Selfs ons “christelike” waardes en norme, opvoeding, dissipline, ens. word baie sterk deur ons kultuur beïnvloed.

In Dalpark Kaléo Gemeente praat ons baie oor die skoonheid (die aantreklikheid) van Jesus en die lieflikheid van sy Persoon. Jesaja praat van Jesus as die sieraad  van God (Jesaja 35:1-2). Die Engels vertaal dit met “splendor”. Skoonheid, prag, heerlikheid, verhewendheid, eer, verruklikheid. Dit is Jesus! Jesaja sê Hy is die een wat kom en die woestyn laat blom met prag en nuwe hoop. Wat sy heerlikheid laat afdruk op dié in die woestynland.

As jy al ‘n tydjie lank na ons lering luister, het jy ons baie hoor praat oor Jesus … sy aantrekkingskrag vir ‘n wêreld in nood, sy lieflikheid en onbesproke karakter as Persoon en oor sy voltooide werk. Oor die erfenis wat Hy deur sy versoeningsdaad aan ons gemaak het. Ons leef in die tyd van vervulling! Die beloftes in die Ou Testament het in Jesus Christus in vervulling gegaan.

Wat het dit te make met die onderwerp wat ek in hierdie rubriek aanraak? Dit het alles te make ook met die opvoeding van ons kinders. Dit wat ons leer oor Jesus is nie dooie dogma nie! Dit is relevant. Dit is prakties. Dit is eietyds. Die kruis van Jesus gee vir ons ‘n nuwe opvoedingsperspektief waarmee ons kinders grootmaak.

Kom ons kyk na enkele van die dinge wat Jesus deur sy voltooide werk aan die kruis bewerkstellig het en hoe dit telkens ook ons opvoeding raak.

VOLTOOIDE WERK : Jesus dra die gevolge van sonde. Hy neem ons straf en oordeel op Hom. In die proses doen Hy weg met sonde, sodat God nie meer daaraan dink nie!

Een van die verskriklike gevolge van sonde is dat die mens in Adam onder die straf en oordeel van God rus. God gee egter nie die mens wat sondaar geword het prys nie. Inteendeel, God het die wêreld so liefgehad, dat Hy sy eie Seun gegee het (Johannes 3:16). En wat doen Jesus? Hy word ons sondes. Hy neem dit op Hom en dra so die straf in ons plek.

Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.

Jesaja 53:5

Soos een oortreding (die van Adam) gelei het tot veroordeling (en dus straf) van alle mense, so het een daad van geregtigheid (Jesus se bereidheid om die skuld te dra) dus ook gelei tot die regverdigmaking (vryspraak) en lewe vir alle mense.

Romeine 5:18

Jesus Christus is oorgelewer ter wille van ons oortredinge en opgewek ter wille van ons regverdigmaking.

Romeine 4:25

Soos wat ons oortredinge die oorsaak was dat Jesus oorgelewer is aan die kruis (en die oordeel van God), was ons regverdigmaking die oorsaak dat God Hom uit die dood kon opwek. Jesus moes met sy soenoffer eers alle ongeregtighede van die mensdom dra en ook die straf daarvoor, voordat God Hom uit die dood kon opwek. Sy opstanding is dus die bewys dat God se wraak oor die sonde van die wêreld afgehandel is.

Jesus dra dus die gevolge van sonde. Hy neem ons straf en oordeel op Hom. In die proses doen Hy weg met sonde. So dat God sê Hy nooit weer daaraan sal dink nie.

Maar nou het Hy (Jesus) een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.

Hebreërs 10:17

aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.

Hebreërs 9:26

Wat God betref, is die oortredinge en ongeregtighede van die mens gestraf en verreken met die kruis. Sy Seun het dit gedra. God het dus nie uitstaande sake teen die mens wat nog in hierdie dispensasie waarin ons is, gestraf moet word nie.

VOLTOOIDE WERK : Jesus het die wet vervul

Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

Matteus 5:17

Die woord vervul beteken om te voltooi, om dit af te handel. Jesus het die wet kom vervul. Hy het aan al die vereistes wat die wet gestel het, kom voldoen. Hy is skuldig bevind vir al die oortredinge van die wet, die oortredinge wat was, wat is, en wat nog moet kom. Hy het die volledige en die finale straf kom dra vir die oortredinge van die wet.

Die rede waarom God sy volk onder die Ou Verbond op verskeie maniere gestraf het, vir die oortreding van die wet, is deur die kruis opgehef. Daar het Jesus die reg van die wet vervul, deur skuldig bevind te word met die oortredinge van die mensdom (en ook die straf daarvoor te dra!) Alles wat vir my en jou onmoontlik was om te doen, dit het Jesus vir ons gedoen. Hy het die wet vervul.

Daarom leef ons nie meer onder die wet nie!

Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.

Galasiërs 3:25

Ons is nie meer onder die wet nie. Trouens Paulus sê in Galasiërs 3:10 wie homself weer onder die wet plaas leef weer onder die vloek van die wet. Die vloek wat Jesus gekom het om op te hef!

Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Johannes 1:17

Waarheid staan aan die kant van genade, en nie aan die kant van die wet nie. Die wet is gegee. Dit impliseer afstand. Van ‘n afstand af gegee. Daarteenoor het genade gekom. Genade is persoonlik en kom deur ‘n Persoon – die Persoon van Jesus Christus. Die wet is hard, koud en onpersoonlik. Jy kan nie verhouding hê met twee kliptafels nie. Maar genade is sag en warm. Genade leer nie godsdienstigheid nie. Genade is ‘n Persoon en jy kan verhouding hê met ‘n persoon. God is nie geïnteresseerd in gehoorsaamheid sonder meer nie, of dat ons ons aan Hom moet onderwerp nie. Hy is ‘n God van liefde en Hy verlang na ‘n intieme persoonlike verhouding met jou. Dit is die essensiële verskil tussen Christenskap en alle ander godsdienste. Al die ander godsdienste gaan oor ‘n sisteem van morele kodes en reëls en wette. Christenskap aan die ander kant, is nie godsdiens nie, maar verhouding. Dit gaan alles oor verhouding met die Almagtige God.

Moenie dink wanneer ons van genade praat en verkondig dat jy nie meer ’n sondaar is nie, dat ons ’n goedkoop evangelie verkondig nie. Dat ons enigsins sê dat sonde nou aanvaarbaar in God se oë geword het nie. God het ’n duur prys vir ons sonde betaal … die dood van Sy Seun. Genade is nooit goedkoop nie. God het afgehandel met sonde, sodat ons in oorwinning oor sonde kan leef.

Jesus het ‘n wrede, grusame dood aan die kruis gesterf. Hy het ‘n duur prys, die volledige prys vir ons sonde en ons skuld betaal. Hy het die straf volledig betaal … Sy offer aan die kruis spreek van verhouding. Deur sy bloed het Hy versoening gebring tussen jou en God. Jy kan met vrymoedigheid in die teenwoordigheid van God verskyn, sonder enige skuld, veroordeling of die verwagting van straf. Want as gevolg van die kruis, is die prys vir sonde betaal, die oordeel is uitgevoer, die woede teenoor sonde is uitgewoed, die voorhangsel het geskeur, die weg na intimiteit met God is geopen.

Nooit weer kan ons onder die wet staan nie. Die wet is deur Moses gegee, genade en waarheid het deur Jesus gekom! Die wet is volbring. Ons kan nie meer onder die wet skuldig bevind en gestraf word nie. Ons is nie sleg en nou moet deur die straf wat ons dra, goed word om vir God aanneemlik te wees nie. Op grond van Jesus se offer is ons waardig voor God en altyd welkom by Hom. Ons kan in verhouding tree met Hom. In gemeenskap met Hom oorwin ons dan sonde en word so meer en meer na die karakter van Jesus.

VOLTOOIDE WERK : God praat met ons (en tugtig ons) deur Sy Woord

Omdat Jesus die straf gedra het, vrees ons nie meer dat God ons gaan straf nie.

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees het nie volmaak lief nie.

1 Johannes 4:18

Nooit weer hoef ons oor ons skouer te kyk en te wonder of God ons gaan straf nie. Nooit weer hoef ons in vrees en bewing voor God te staan nie. Ons is deur Jesus geregverdig om te leef in ‘n onbeskaamde vrymoedige verhouding met God. Nooit weer hoef ons bang te wees dat God droogte veroorsaak, omdat Hy vir ‘n gemeenskap kwaad is nie. Dat Hy my kanker gee, omdat Hy my wil dissiplineer nie. Dat Hy my kind wegneem, omdat Hy daardeur vir my iets wil sê nie. Nooit weer nie.

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.

Hebreërs 1:1

In die Ou Testament het God gespreek deur omstandighede. Deur sy oordeel en straf op die mens se ongehoorsaamheid aan te kondig:

Hierdie bedeling is afgehandel. God spreek nie meer deur omstandighede nie. God het gespreek deur sy Seun. Die Woord van God.

En in hierdie woord hoor ons die liefdeshart van God klop … oor en oor en oor. EK het jou lief. Ek begeer vrymoedige verhouding met jou. Ek het jou straf gedra.

Beteken dit dat God nie meer dissiplineer nie? Nee, die Woord sê dat God tugtig.

Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, 6 want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy bestraf elkeen wat Hy as kind aanneem.” 7 Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie?

Hebreërs 12:5-7

The word in scripture that confirms your genesis in God address you as sons, “My son do not undervalue the loving instructions of the Lord, neither become despondent when you are corrected. [paraklektos is hier vertaal met ‘loving instruction’].

Mirror Bible.

Parakletos is dieselfde woord wat Jesus vir die Heilige Gees gebruik. As Parakletos is die Gees jou Comforter (Bemoediger),  Counselor (Raadgewer), Helper (die een wat jou ondersteun), Intercessor (die een wat vir jou intree by God), Advocate (wat jou verdedig wanneer die vyand jou aankla), Strengthener (die een wat jou krag gee), Standby (die een wat onmiddellik beskikbaar is wanneer jy hom nodig het.)

For every instruction is inspired by His love, even as a father would discipline his sons with affection, though it might seem harsh at the time. Embrace correction. His instruction confirms your true sonship, just as a father take natural responsibility for the education of his children. [paideo – opvoeding]

Mirror Bible.

God tugtig nie deur omstandighede nie, maar deur Sy woord.

“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Johannes 14:1-5

God se tugtiging is egter nie meer ‘n straf wat volg na skuldigbevinding nie. God se Seun het die skuld gedra. Daarom is die woord wat die Nuwe Testament vir tugtiging gebruik, paideo. Dit beteken om te onderrig en op te voed, op te bou … en nie om seer te maak nie.

Wanneer God ons tugtig geskied dit deur Sy Woord. Die klem is nooit op skuldigbevinding en straf nie, maar op die bestuur van oorsaak en gevolg. God wil ons leer (paideo) om verantwoordelike besluite te neem, omdat ons besluite gevolge gaan hê waarvoor ek self aanspreeklikheid moet aanvaar. God wil nooit dat ons optrede deur vrees vir straf bepaal moet word nie, maar dat ons optrede bepaal sal word deur ‘n positiewe besluit om verantwoordelik te lewe.

Dit wat Jesus vir ons voltooi het, bring ons by ‘n nuwe opvoedingsperspektief wat die kruis vir ons bied:

Opvoedingsperspektief # 1 : Ons kan God van harte vertrou met ons kinders

Ouers hoef nie meer in vrees te lewe dat God dit mag nodig vind om ‘n tragedie oor julle of julle kinders te bring om sodoende met julle as gesin te praat nie.

So baie ouers se gedagtes, gevolglik hulle uitsprake en uiteindelik hulle optrede word gevorm deur vrees. En geen wonder nie! Kyk net na negatiewe toestande en bedreigings in die wêreld vandag! Die toestande, het ons gesien, is nie ‘n weerspieëling van God se hart met die mens nie.

Vanweë die kruis weet ons dat God se guns, sy vergifnis, beskerming, genesing en voorsiening ons erfenis geword het.

Deur die geregtigheid van God, dit wat Jesus vir ons verdien het, het ons ook die gesag gekry om die Naam van Jesus te gebruik, soos wat ons wandel saam met Hom. Hierin het ons soveel sekuriteit, want in die voorsiening en rus in Jesus se Naam, kan elke aanslag van die vyand op ons kinders se lewe afgeweer word.

Onderwerp julle dan aan God; weerstaan de duiwel, en hy sal van julle af wegvlug.

Jakobus 4:7

Die nuwe opvoedingsperspektief ná die kruis bestaan dus daarin dat ons as ouers ons aan God en die beloftes van sy Woord onderwerp. Ons hou die beloftes soos ‘n banier teen die aanslag op en rus in die sorg en voltooide werk van Jesus. So weerstaan ons die aanslag van die duiwel en vlug hy uiteindelik van ons af weg. Jesus het ons immers bestem om oor die wêreld saam met Hom te heers. Deur Jesus (en die gebruik van sy Naam) het ons gesag in die geeswêreld.

Onkunde, moedswilligheid of volharding in sonde, ondermyn egter ‘n ouer se gesag in die geeswêreld en maak hom en sy gesin ‘n prooi vir die aanslae van die vyand.

Opvoedingsperspektief # 2 : Na die voorbeeld van Vader, straf ek nie meer my kind nie, maar paideo hom (voed hom op), leer hom om verantwoordelikheid te aanvaar

Onthou, ons staan nie meer onder die wet nie. Ons word nie deur God skuldig bevind, omdat ons die wet oortree en dan daaroor gestraf nie. Ons is nie sleg en moet deur die straf wat ons dra weer goed gemaak word om vir God aanneemlik te wees nie. Op grond van die offer van Jesus is ons waardig en altyd welkom by God. Ook neem God se tugtiging nie die karakter van straf nie, maar van opvoed en leer (paideo).

Wanneer ons ons kinders opvoed is ons uitgangspunt dus ook soos God s’n. Geen kind is inherent stout of sleg nie. Op grond van Jesus se offer staan hulle regverdig voor God, al doen hulle soms dinge wat verkeerd is. Onthou, hoewel God ‘n afkeur in sonde het, het Hy die mens wat sonde doen ten spyte daarvan lief. So ook ons, ons mag ‘n afkeur hê aan die dinge wat ons kinders doen … maar ons het ons kinders ten spyte daarvan lief. Jesus het die straf vir sonde reeds gedra. Ons straf dus nie meer ons kinders vir hulle foute nie, ons bestuur dit deur hulle verantwoordelikheid te laat neem – reeds van kleins af – vir hulle optrede. Hierdie verantwoordelikheid hoef nie noodwendig ‘n pak slae uit te sluit nie. Die klem van ‘n pak slae is egter nooit straf nie, maar ‘n leerproses. Daar is gevolge op negatiewe gedrag.

Indien ons konsekwent is in ons opvoeding aan ons kinders, behoort selfs die nodigheid van ‘n raps oorbodig te wees teen die tyd wat hulle skool toe gaan. Teen daardie tyd is die beginsel van gehoorsaamheid (negatiewe optrede het gevolge) gevestig en in die meeste gevalle sal dit nooit nodig wees dat die raps, ‘n pak slae hoef te word nie.

Na die voorbeeld van Vader, straf ek nie meer my kind nie, maar paideo hom (voed hom op) leer hom om verantwoordelikheid te aanvaar.

Opvoedingsperspektief # 3 :  Wet maak plek vir verantwoordelikheid

Die sleutel tot opvoeding is om soos wat God met ons wandel en sy karakter en droom met ons wil deel, só met ons kinders te wandel. Opvoeding is dus die begeleiding waarmee ek my kind aan die lewe blootstel met die doel om hom, met selfstandigheid, sy eie ingeligte besluite te laat neem en daarvolgens te lewe.

Baie Godvresende ouers besef nie dat hulle vandag nog steeds onder die wet lewe nie en dat hulle opvoeding wetties is nie.

Ons het gesien die wet staan teenoor verhouding. Dit is in die Ou Testament die plaasvervanger vir verhouding. Die mens het teen intimiteit gekies en so word die wet deur Moses vir hulle gegee. Die wet gee instruksies waarvolgens die mens moes leef. Gehoorsaamheid sou tot seën lei, ongehoorsaamheid tot straf en die vloek. Maar niemand kon aan die gestelde standaard van die wet voldoen nie. Die gevolg was dat die reg van die wet toegepas moes word. Naamlik, skuldigbevinding en straf. Die mens vir wie dit onmoontlik was om die wet na te kom was gedurig in vrees vir die straf en oordeel wat sou volg.

Jesus was die enigste mens wat volmaak was en nooit skuldig aan die oortreding van die wet nie. Daarom kon Hy namens die mens die wet volbring deur skuldig te word met die mens se oortredinge. So het Hy aan die reg van die wet voldoen deur die straf ten volle te dra. So is ons vandag vry en staan nie meer onder die wet nie. Dinge wat nou gebeur is nie meer God se straf nie, maar die vrugte wat ons pluk vir ons eie keuses. God het in sy almag besluit om die keuse van gesag en heerskappy aan ons oor te laat. Saam met hierdie vryheid kom egter ook die verantwoordelikheid vir die gevolge.

Ook in ons ouerskap moet die kruis neerslag vind. Nie meer wette nie, maar verantwoordelikheid:

  • In die plek van ‘n klomp wette en reëls leer ons ons kinders lewensbeginsels wat, wanneer hulle dit toepas, hulle nie met God se orde vir lewe laat bots nie.
  • In die plek van straf leer ons hulle dat keuses gevolge het, waarvoor hulle self verantwoordelikheid moet neem (en begelei ons hulle in die gevolge).
  • In die leerproses gaan hulle foute maak. Ons begroot daarvoor en bestuur dit soos wat dit kom, sonder om ons kinders met ons teleurstelling te belaai.
  • In die plek van die plaasvervanger (wet: klomp reëls en moets en moenies) deel ek nou my lewe in Christus met my kind. Die Gees lei my en ek begelei my kind tot dieselfde oorwinningslewe in Hom.
  • Ons wil dus ons kinders leer om te leef volgens die inspraak van die Heilige Gees, eerder as terug te val op wette en reëls omdat daar ‘n gebrek met verhouding met God is.
  • Verantwoordelikheid word geleer deur verantwoordelikheid aan jou kind toe te ken.

Volwassenheid is wanneer jou kind die kuns bemeester het om self verantwoordelikheid te neem vir sy keuses en besluite, asook vir die gevolge wat hierdie keuses en optrede meebring.

WEEKLIKSE VISIE VRAE VIR OORDENKING EN BESPREKING

  • Het die grendeltyd en die ekstra verantwoordelikheid wat jy vir jou kinders se opvoeding moes neem, enige vrae oor die bestaande opvoedingsisteem by jou wakker gemaak? Wat het veral vrae by jou veroorsaak?
  • Wat neem jy uit vandag se rubriek wat jou dalk vir die eerste keer anders laat dink het oor opvoeding vanuit ‘n Christus perspektief.

Laat gerus hoor wat jy dink. Meld aan vir ons volgende Huis onder die kruis – kursus, wat ons aanbied.

Ds. Hennie Pienaar is leraar van Dalpark Kaléo. As jy graag wil inteken om sy Vrydag VISIE Rubriek te ontvang, kan jy hierdie skakel volg.

2 thoughts on “HP#11: ‘N NUWE OPVOEDINGSPERSPEKTIEF”

  1. Hendrik Labuschagne

    ‘n vraag of bekommernis wat by my ontstaan het.:
    Alle ouers het nie dieselfde tyd, kennis en aksies met hul kinders gehad nie.
    Sommige ouers of “tuisonderwysers” het soveel moeite gedoen en daardie kinders mag dalk die ander vêr vooruit wees.
    Dit teenoor ouers of versorgers wat GEEN bystand of hulp gegee het nie.
    Is daar nie nou dalk ‘n wanbalans tussen kinders wat anders op dieselfde vlak was nie.

    1. Hennie Pienaar

      Verseker is daar kinders wat nou verder agter is. Ons het gesien met ons kospakkieprojek dat baie ouers geen data gehad om by die onderwysers se hulp baat te vind nie. Baie het maar net laat gaan. Daar is geweldig baie uitdagings wat nou aangespreek moet word. Dankie vir jou deelname aan die gesprek!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *