Ons droom

Ons wil graag deel wees van die opbou en genesing van ons land. Ons droom van ’n gemeenskap waar God heers. Habakuk 2:14: “Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here (die heerlikheid van God) oral op die aarde geken word.”

Ons Visie

GEVESTIG. GEBORGE. GESTUUR. Ons is gevestig in Jesus en sy voltooide werk. Ons is geborge in ’n geestelike familie. Ons is gestuur na die wêreld met die Goeie Nuus.

Ons naam

Kaléo is ’n Griekse woord wat beteken: “om te roep, om hard uit te roep, om bekend te maak, om uit te nooi, om iemand te benoem”. (Met ander woorde om identiteit aan iemand te gee). Dit is ’n woord wat iets sê van  wie jy is en wat jou skeppingsdoel op aarde is. 

“En ons sal Hom Jesus noem…” (GEVESTIG) Matteus 1:21: “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Om Jesus te kaléo… om Jesus se identiteit uit te roep, is daarom ook om ons eie identiteit in Jesus te verstaan. (So bring ons herstel in mense se lewens). 

“En ons sal mekaar familie noem”, want saam verstaan ons ons identiteit in Christus. (GEBORGE) Matteus 6:16: “Op hierdie rots sal Ek my kerk (my Ekklesia – vanaf die woord kaléo) bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (So bring ons herstel in verhoudings).

“En ons sal die Goeie Nuus oor die wêreld uitroep.” (GESTUUR) Matteus 4:18: Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ‘n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak”. Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus ‘n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in ‘n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep (kaléo), en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg. (So bring ons herstel in ons gemeenskap.)